Saturday, September 23, 2017
Text Size

Die alombekende spreker en outeur Clem Sunter het Vrydag 5 Junie sy toekoms-insig met Worcesterse sakelui gedeel in ’n praatjie wat deur die Worcester Besigheidsforum gereël is.

Die kern van dié gerespekteerde meningsvormer se boodskap het gekom uit drie van sy topverkoper-boeke onder die Mind of a Fox-vaandel. Hy het al 17 boeke geskryf.

Sunter het in sy praatjie verduidelik dat sy boeke daaroor handel om verskeie vlae in jou omgewing, hetsy polities, ekonomies of sosiaal van aard, te kan identifiseer en daarvolgens op te tree en besluite te neem.

“Die vermoë om dié vlae te kan erken sal jou, of jou besigheid of land, se kanse op oorlewing bepaal,” het Sunter begin en gewaarsku groot besighede is geneig om minder flink op hul vlae te reageer en dat dít hul ondergang sal beteken.

“Rooi vlae op Suid-Afrikaanse bodem sluit korrupsie, sommige wetgewing, die kwaliteit van plaaslike infrastruktuur en gebrekkige leierskap in.

“Die rooi vlae wat tans op internasionale vlak opspraak maak is geloofsoorloë in onder meer Irak en die moontlikheid van kernwapenbedreiging vir Europa, maar veral vir lande wat grense met Rusland deel,” aldus Sunter.

Verder is Sunter van mening dat die groeiende negatiewe gevoel jeens die diensstaat groot impak kan hê. “Die middelklas raak opstandig teenoor die superryk soos wat die gaping tussen die twee groei. Rentekoerse wêreldwyd vermeerder rykes se geld en verminder die armes s’n soos wat skuld ophoop.”

Hy voeg by dat dié soort desperaatheid daartoe lei dat baie linkse politieke partye hul voet in die deur kry wat tot politieke onstabiliteit lei.

Sunter, wat onlangs ’n eredoktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad ontvang het, is in 1944 in Engeland gebore en het aan die Universiteit van Oxford studeer. In 1971 het hy na Lusaka in Zambië verhuis om vir Anglo American, wat toe die grootste goudprodusent in die wêreld was. In 1973 is hy na Anglo se hoofkantoor in Johanneburg verplaas waar hy van 1990 tot 1996 die voorsitter en uitvoerende hoof was. Tot onlangs was hy die voorsitter van die Anglo American Chairman’s Fund wat hy bestuur het tot waar dit vandag as die land se nommer een korporatiewe sosiale verantwoordelikheidfonds beskou word.

Sedert die vroeë tagtigerjare was Sunter in die leierskapposisie van Anglo se scenariobeplanningsfunksie – wat hy ook self gevestig het. “Die hoogtepunte van my loopbaan was om in 1986 ’n voorlegging aan die destydse kabinet onder leiding van FW de Klerk te kon maak en my besoek aan die ontslape president Nelson Mandela, kort voor sy vrylating,” het Sunter gesê

SAFETY TRAILER BRINGS SENSE OF COMFORT TO CBD

ESTELLE VOSLOO Worcester Standard

WBF Login